Litiummyn op Karibib nader aan ‘n werklikheid

Lepidico mag al dié jaar begin bou
Altesaam 12 miljoen ton litium is gereed om ontgin te word, met N$1,1 miljard wat vir die ontwikkeling van die myn nodig is.
Augetto Graig
Lepidico se ontginning van nagenoeg 12 miljoen ton litium buite Karibib beweeg al hoe nader aan die werklikheid.

Dit volgens dié maatskappy se besturende direkteur, Joe Walsh. Hy het aan die koerant gesê die aanvanklike ingenieurswerk en ontwerp vir die nuwe myn is reeds verlede jaar voltooi, alle nodige lisensies is in plek en bouwerk aan die metaalkonsentraataanleg kan begin. “Ons is reg om te grawe,” sê hy.

Die Australies genoteerde maatskappy is tans besig om die finale beleggingsbesluit suksesvol af te handel. Dit word vir die eerste helfte van 2023 beoog. Die litiumerts wat Lepidico wil ontgin kom op die oppervlak voor en dit is nie nodig om eers afvalmateriaal te verwyder nie. Dus is dit ’n prioriteit om die aanleg te bou, “met mynbou wat sal begin net voor die aanleg se ingebruiknemingsfase,” voeg Walsh by. “Die konsentraataanleg sal saam met die myn as deel van ’n geïntegreerde ontwikkeling gebou word,” sê hy.

Bouwerk kan reeds later vanjaar begin, met mynboubedrywighede wat later volgende jaar kan afskop, sê hy. Volgens Walsh is die bron so groot dat die myn se verwagte lewensduur 15 jaar is, met onlangse booraktiwiteite wat aandui dat die myn se lewensduur met nóg vyf jaar verleng kan word. “Ons het ook interessante eksplorasie-uitslae ontvang, alhoewel in ’n vroeë stadium, wat nuwe ontdekkings vir ’n tweede fase-uitbreiding ondersteun,” sê hy.

Aanvanklik sal die projek 150 werksgeleenthede skep, “saam met sekondêre en ondersteunende nywerheidsgeleenthede wat na verwagting merkwaardig en tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe sal wees”.

Volgens Walsh het Namibië die vaardighede wat vir die projek benodig word. “Ons het reeds die Namibiese leierskapspan aangestel. As ʼn beleggingsbesluit geneem is, sal ons begin om die span vir werksaamhede bymekaar te maak. Die verwagting is dat elke rol deur ’n Namibiër vervul sal word,” voeg hy by.

Die myn en aanleg is deel van ’n groter vertikaal-geïntegreerde besigheid waarin Karibib aan Lepidico se chemiese omskakelingsaanleg in Abu Dhabi sal voorsien. Die maatskappy se tegnologie word daar ingespan om litium en ander chemikalieë met veel laer verwante kweekhuisgasvrystellings as konvensionele metodes te produseer. Die maatskappy begroot N$1,1 miljard of US$65 miljoen vir die myn en aanleg in Namibië. Vir die aanleg in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) beoog die maatskappy om US$200 miljoen te bestee.

Volgens Walsh het die vraag na litium op die wêreldmark in onlangse jare aansienlik gegroei en word daar verwag dat dit in die voorsienbare toekoms die voorraad sal oorskry.

Verder het Lepidico ’n mandaat van die Internasionale Korporasie vir Ontwikkelingsfinansiering, wat vanaf hierdie departement van die regering van die Verenigde State van Amerika (VSA) kernfinansiering aan die projek belowe, voeg Walsh by.

[email protected]