Namibië die perfekte speelpark

Tanja Bause
Alison Cline, ’n wêreldreisiger en kunstenaar van die Verenigde State van Amerika, is tans vir drie weke in Namibië.

Cline, wat al 30 lande besoek het, is ’n verfkunstenaar eerder as ’n fotograaf. “In Namibië het ek geëksperimenteer. Ek neem gewoonlik foto’s wat ek dan later terug by die huis skilder. Dit was die eerste keer dat ek die tipe kuns gedoen het. Namibië is so ’n ontsagwekkende agtergrond en doek om mee te werk; ons het baie pret gehad. Die oop landskappe spoor ’n mens aan om te skep en daar is die pluspunt dat jy dalk ’n kameelperd in die agtergrond ook sal kry. Ek en Katherine het gesels oor waar anders in die wêreld ons sulke ongelooflike landskappe en soveel wilde diere sal kan sien. Ons het bespiegel oor of daar nog ’n plek is wat dié kombinasie vir mense bied en ons kon nie aan een ander plek dink nie. Om ’n bier te drink terwyl jy na ’n olifant kyk ... daar is nie woorde nie.”

Cline en haar reisgenoot dr. Katherine Sabourin het weens beperkte spasie net ’n paar uitrustings, gesig- en liggaamsverf in hul koffers gepak. “Ná ons aankoms het ons deur Botswana na die Okavango Delta gery; toe is ons deur die Caprivi, Skedelkuspark en kuslangs af tot by Sossusvlei. Ons het net gery en gery en wanneer ons ’n plek gesien het wat my geïnspireer het, het ons gestop en iets gesoek om aan te trek en onsself geverf. Baie kere het ek net 20 minute gehad om alles gereed te kry, die kamera op die staander te sit en te hardloop vir die foto. Dit was ’n uitdaging, want ons wou die regte beligting hê, die foto geneem het voordat te veel mense opdaag. Niks was vooraf beplan nie. Soms was ons gejaag en dalk is dit deel van die estetika dat die gesigverf nie perfek is nie.”

Sy vertel van hul laaste fotosessie in Sossusvlei, toe sy besef het daar was slegs sowat twee minute oor om die foto te neem voor die son sak. Niks was gereed nie, toe daar skielik ’n toergids agter hulle vra of hy die foto moet neem. “Ons het ure laas met iemand gepraat en toe op die regte oomblik is die man daar en kan ons uithelp met die neem van die foto’s. Ons het nie geweet wat om te verwag toe ons besluit het om Namibië toe te kom nie, maar almal hier is so vriendelik en orals is net ongelooflike mense. Nog ’n ding wat ek regtig as ’n vroulike reisiger waardeer, is dat nog niemand oneerbiedig met my was of met my gepraat het of hulle iets van my af soek nie. Oor die wêreld heen het ek al baie probleme ervaar.”

Cline vertel dat hulle die groen gesigverf in die donker parkeerarea by Sossusvlei se ruskamp wou afhaal. “Die verf kom maklik af; jy was dit sommer met water en papierhanddoeke af. Ons het dit gedoen en gedink ons sal badkamer toe gaan en enige kol wat ons dalk gemis het afwas. Toe ons in die kroeg instap, het Katherine weggehardloop. Die kroegman het my kom vra wat met my gesig aangaan. In die restaurant en kroeg was sowat 30 mense wat na my gestaar het. Die man het my na die toilette geneem en toe sien ek my gesig is groen. Katherine het my in die lig een kyk gegee en my net daar laat staan. Die man sê toe hy het gedink hy sien Hulk se sussie. Ons het ontsettend baie pret op die reis en in die land gehad.”

Hulle sal beslis weer kom en kan nie wag om vir almal van Namibië te vertel nie. “Op Instagram is ek as backalie_traveling_artist; ek het daar van die foto’s onder die onderskrif ‘Stap in my volwasse sandbox’ opgesit. Mense kan gerus daar gaan loer.”

[email protected]