Lin-Mari mik vir SA sukses

Iréne-Mari van der Walt
Haar kroon as Voice of Namibia het vir Lin-Mari Coetzee deure oopgemaak.

Die bekende musiekvervaardiger en sanger Hugo Ludik het haar talent raakgesien. Coetzee is in 2021 as wenner van dié sangkompetisie aangewys nadat sy die vorige jaar tweede ná Heiko Doedens geplaas is. “Ek het gesien daar was ’n kompetisie en Lin-Mari het gewen. Ek het ’n liedjie op Facebook gesien wat sy gesing het – dit was net sy en ’n klavier. Ek het gedink sy het regtig ’n baie goeie stem,” vertel Ludik, wat in Namibië grootgeword en nou in Suid-Afrika gebaseer is.

Hy sê sy nasietrots het hom die hupstoot gegee om die jong sangeres te nader. “Ek is natuurlik baie lief vir Namibië en kyk altyd waar ek Namibiërs kan help.”

Beide partye kan nog nie veel oor die enkelsnit vertel nie, maar Coetzee verklap dat dit van haar gebruiklike styl afwyk. “My liedjies is eintlik sag en sentimenteel, maar die nuwe snit is bietjie meer danserig. Dis iets nuut. Ek het nog nooit so iets gedoen nie, maar dis waar die mark nou is,” sê sy.

Coetzee sê egter die nuwe styl sal nie haar styl verskuil nie en dat haar identiteit in die enkelsnit gevind kan word. “Dit was vir my van die begin af belangrik dat ek die lirieke skryf. Ek het vir Hugo ’n bundel lirieke gestuur en hy het besluit watter lirieke die beste vir die liedjie is,” sê sy.

Coetzee het haar debuut in die musiekbedryf met haar enkelsnit ‘The Fool’ gemaak. Dié liedjie, vertel sy, is gebaseer op jong liefde en hoe mens jou teen ’n geliefde se foute en tekortkominge kan blindstaar. Volgens Coetzee is die presiese datum vir die enkelsnit se vrystelling nog nie bekend nie, maar sy is gretig om dit so gou as moontlik die wêreld in te stuur.

[email protected]