Kus kan uitsien na Paaskonsert

Na ‘n lang stilte weens Covid-19 kan kusbewoners hulle regmaak vir ‘n musikale hoogtepunt van 2022.

Musikante en sangers sal op Vrydag 8 April ‘n konsert ter viering van Paasfees aanbied. Die konsert begin om 19:00 by die Shofar-kerk en kaartjies is teen N$100 by Karen Miller Argitek beskikbaar, wat op 061 407 121 gekontak kan word.

Groepe wat op die verhoog te sien gaan wees sluit in Strings Attached onder begeleiding van Christa Lamprechts, die Kantorei begelei deur Dörte Witte, Lindie Botha en die Bellas en die CGals-koor onder begeleiding van Wilna Liebenberg.

Dié koor het in 2021 Namibië se naam hoog gehou tydens die World Choir Games in Vlaandere in België toe hulle in twee kategorieë goud en silwer gewen het. Die geleentheid se 11de jaarlikse weergawe is weens Covid-19-beperkings virtueel aangebied en die CGals het die afdelings vir pop-, jazz-, gospel- en spirituele musiek gewen.

Die gehoor kan uitsien na ‘n verskeidenheid items waaronder komposisies van Bach, Telemann, Pergolesi, Brahms, Mendelssohn en stukke wat die “Halleluja”-koor, “How Great Is Our God”, “Dona nobis pacem” en “Air on the G String” insluit.

Die konsert sluit af met Pergolesi se “Stabat Mater” en ’n duet deur die sopraan Wilna Liebenberg en alt Karen Miller – begelei deur Strings Attached en Rina Opperman.

Die sangduo (Wilna en Karen) en hulle begeleidster, Vera Malherbe, het al die finale eksamens van Unisa, Trinity College en ABRSM met lof geslaag.