JP se debuut-enkelsnit is eersdaags hier

Hartbreek inspireer nuwe musiek
Een van die kus se opkomende musikante vertel hy het 'n "warrelwindjaar" beleef.
Iréne-Mari van der Walt
Die 23-jarige JP Kotzé maak al 'n geruime tyd 'n naam vir homself as musikant aan die Namibiese kus, maar na sy onlangse sukses in die binneland beoog Kotze om sy eerste oorspronklike enkelsnit in die komende maande uit te reik.

Die snit "Not Anymore" wat deur Karl Terblanche opgeneem is, val volgens Kotzé onder die sagte rock-genre en is glo geïnspireer deur 'n inskrywing in sy dagboek wat van 'n onlangse hartbreek-ervaring vertel.

"Dit is natuurlik 'n 'breakup song', daarom het dit meer van 'n rockklank," het hy gesê.

"My hart is hierdie jaar gebreek, soos dit met ons almal gebeur; toe het ek besluit om te skryf oor hoe ek voel. Soms is ander mense nie genoeg om jou deur iets te dra nie, daar kort iets; en dit is om te sit en neer te pen presies hoe jy voel in daardie oomblik. Teen die tyd wat ek begin skryf het, het ek besef dit is wat dit is, en so het ek toe begin skryf oor hoe dit nie meer is nie."

Voor Kotzé egter die moed gehad het om sy lief en leed in oorspronklike musiek te deel, het hy en sy stem verskeie toekennings en pryse verower. In 2016 het hy vyf goue medaljes by die Namibiese Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste en vyf goue medaljes by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste ingepalm. Twee jaar later, in 2018, het Kotzé met drie bronsmedaljes by die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste weggestap.

Kotzé deel reeds van sy laerskooldae sy liefde vir musiek met ander deur kitaarlesse tot sy matriekjaar in 2018 aan te bied. Deur die jare het hy ook daarin geslaag om homself onder meer klavier en dromme te leer speel.

Volgens Kotzé het sy musiekloopbaan egter eers in Mei vanjaar begin blom.

"Ek het die geleentheid gekry om by 'n plaaslike kroeg te speel toe DJ Mickey G vir Vaughn Ahrens gevra het of ek kan speel gedurende die pouse in sy optrede en van daar af is ek amper elke week geboek. Die Outjo Wildsfees het my vanjaar gevra om op te tree en dit het my die kans gegun om aan 'n tafel te sit met Suid-Afrikaanse musieksterre. Ek was ook onlangs een van die ondersteunende kunstenaars vir Spoegwolf se konsert op Swakopmund," vertel hy van sy warrelwindjaar.

Hy deel ook sy blink vooruitsigte vir sy musiektoekoms: "November was 'n besige maand en Desember raak by die dag voller. Ek is só dankbaar om musiek te maak vir 'n lewe! Hierdie is wat ek vir die res van my lewe gaan doen."

[email protected]