So knel strenger grensbeheer boere, verbruikers

Belanghebbendes sê oor bek-en-klouseer-maatreëls se impak
Die toename in bek-en-klouseer-uitbrekings in Suid-Afrika het ook 'n pynlike impak op Namibië.
Ronelle Rademeyer
Die impak van die strenger maatreëls wat verlede week deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) afgekondig is in ‘n poging om te verhoed dat bek-en-klouseer uit Suid-Afrika na Namibië versprei, kom teen ‘n prys vir die landbousektor én verbruikers.

Volgens belanghebbendes in die vleisbedryf is hierdie nie kortstondige maatreëls nie, en daarom sal die impak durend wees.

"Suid-Afrika het nie die gekoördineerde wil om die talle uitbrekings van bek-en-klouseer te bestuur soos wat Namibië dit doen wanneer hierdie gevreesde dieresiekte in die noordelike kommunale gebiede uitbreek nie," sê mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad van Namibië.

“Die strenger maatreëls kan dalk vir ewig geld,” sê hy.

Volgens hom is dit veral die stoetveebedryf wat geraak word, asook veevoervervaardigers wat nie meer ruvoer soos lusern uit Suid-Afrika mag invoer nie.

“Verbruikers gaan geraak word omdat die beperking nou ook na varkvleis uitgebrei is. Ons kan deur plaaslike produksie net omtrent in die helfte van ons behoeftes voorsien,” sê Strydom en voeg by dit kan die prys van varkvleis en varkvleisprodukte soos spek laat styg.

Mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Stoettelersvereniging, sê ofskoon stoettelers reeds vanaf die begin van die bek-en-klouseer-uitbrekings in die buurland nie meer stoetvee mag invoer nie, beperk die nuwe maatreëls nou ook die invoer van embrio’s en semen.

“Dit gaan baie negatiewe impak hê vir veral die kleiner rasse. Met die groter rasse soos die Brahmane het ons ‘n baie groter genepoel. Hulle kan vir ‘n tyd nog oorleef, want ‘n teler kan by ander telers bulle koop. Vir die kleiner rasse is dit egter ‘n kritieke probleem,” sê hy.

Van der Merwe sê hoewel telers embrio’s en semen uit lande soos Australië of Amerika kan invoer, verskil die boerdery-omstandighede in daardie lande. “Ons teel ‘n tipe dier wat geneties aangepas is vir die ekstensiewe boerdery-omstandighede hier in suidelike Afrika. Ons is nie bekend met die bloedlyne in ander lande nie. Daarom is hierdie beperking uit Suid-Afrika vir ons so ‘n dilemma.”

Mnr. Jaco Laubschagne, hoofbestuurder van Feedmaster, sê die invoerverbod beperk die ruvoer-gedeelte van hul veevoervervaardiging. “Gelukkig sit ons nie tans met ‘n rampdroogte-situasie soos drie jaar gelede nie.”

Volgens hom noodsaak dit Feedmaster om die vervaardiging van sekere produkte wat lusernmeel bevat wat veral in die stoetveebedryf en vir die afronding van lammers gebruik word, na sy Veekos-filiaal op Upington uit te kontrakteer.

“Tydens die vervaardiging gaan dit deur prosesse waar die temperatuur tot 80 grade Celsius verhoog word, en daarom mag die klaarvervaardigde produk ingevoer word,” verduidelik Labuschagne.

Die veevoerbedryf is reeds deur die oorlog in die Oekraïne onder druk geplaas aangesien die prys van grondstofprodukte soos ureum en monokalsiumfosfaat in Maart vanjaar skerp begin gestyg het.

Labuschagne sê namate nuwe verskaffers tot die voorsieningsketting toegetree het, het pryse darem begin daal. “Dit het egter nog nie genormaliseer nie.”

[email protected]