Veldwedloop

Steeds kom die navrae van drawwers en bergfietsryers in, het Riana Scholtz van Uis, saam met haar man Nic organiseerders van die byeenkoms, aan Erongo gesê. “Dit hou net nie op nie. Al wat 'n blyplek op Uis is, is lankal vol. Baie gaan kampeer. Kampeerplek het ons nog baie, maar dan moet rekening met ablusiegeriewe gehou word.”
Dit is die tweede jaar van die Renosterdraf met die opbrengs wat vir die Red die Renosterfonds gaan. Die kuiernaweek vir ondersteuners en deelnemers begin Vrydagaand al met 'n verwelkoming by die Daureb Isib-kampeerterren wat ook as wegspring- en eindpunt van die byeenkoms sal dien. Deel van Vrydagaand se byeenkoms gaan te ete en te drinke en 'n veiling wees met die opbrengs wat ook vir die renosterfonds sal gaan.
Ondanks die koms van die winter byt die koue selde op Uis. Daarom gaan die wegtrek Saterdagoggend voordag wees. Om 05:45 gaan daar 'n inligtingsessie vir deelnemers wees en om sesuur gaan die eerste skoot klap vir die drawwers en fietsryers om die bergland te pak. Die prysuitdeling sal omstreeks elfuur wees.
Die roetes strek van Uis weswaarts in die rigting van die Brandberg en dan terug. Dit is 'n veldroete deur boswêreld en met sandplasse, maar dit is duidelik genoeg afgemerk vir deelnemers om nie te verdwaal nie. Verlede jaar het deelnemers oor te veel sandplasse gekla, vanjaar is dit minder gemaak. Op die roete is die magtige Brandberg deurlopend in sig as baken om koers te kan hou.
Die kategorieë waarin deelgeneem kan word, is: 28 km draf, 13 km draf, 6 km pretdraf en 30 km bergfietsry.
Die organiseerders waarsku dat die roetes wissel met rots-, sand-, gruis- en heuweltrajekte. Selfs die organiseerders bestempel die roetes as Damaraland en gevolglik taamlik taai. Die pragtige sonsopkoms oor die bergland verseker nogtans dat daar nie verniet gesweet word nie.
Op die roete sal die deelmemers geheel en al op hulleself aangewese wees. Op die langer draf- en fietsryafstande sal daar wel 'n waterpunt by die draaiplek wees. Papierkoppies en plastiekbottels sal nie toegelaat word nie. Elkeen moet sy eie waterhouer saambring wat by die waterpunt hervul sal word. Voertuie word glad nie op die roetes toegelaat nie, maar 'n goeie kykplek is waar die roetes die hoofweg sowat 3 km van die wegspringplek kruis en dan met die terugkomslag sowat 6 km voor die eindpunt. Goeie toerusting om saam te bring, is saamslaanstoele, messe en vurke en bekers vir vloeistof. (DE)