Padwedlope

Verlede jaar het ’n paar fietsryers sommer vir die pret hul eie nommer as deel van die Brandberg Rhino Run ingepas. Vanjaar op 11 Junie gaan dit ’n integrale deel van die renosterdraf wees. Dis nie meer net vir sweet nie, dis nou vir uithaal en wys.
Die aankondiging is deur Riana Scholtz van Uis gedoen, die dorp wat soos verlede jaar as basis vir die byeenkoms gaan dien. Riana en haar man, Nico, staan aan die spits van die organisasie wat met drie nommers vir drawwers voorsiening gaan maak. Waar die verkenners op fietse ­verlede jaar die roete gevolg het, was daar klaagliedere oor die vele sandplasse. Ook die drawwers het sorge met die sandskofte gehad wat aan hul kuite gevreet het. Dikwiele is nie ’n vereiste vir deelnemers aan die fietsskof nie.
Sand gaan daar nog wees, maar ­vanjaar se roete gaan dit net vir afwisseling insluit, het Riana op ’n ­mediakonferensie op Swakopmund gesê
Die skilderagtige roete word so uitgelê dat die Brandberg deurlopend vir deelnemers as baken sal dien oor waar hulle is. Die twee langer drafskofte in die wêreld waar ook die bedreigde swartrenoster wei, strek oor 28 en 13 kilometer met lengtes wat oor tweespoorpaadjies gevolg gaan word. Vir die gemaksugtiges is daar ook ’n korter afstand van sowat 6 km. Dit kan afgedraf of afgestap word.
Oor die roetes sê die Scholtze dis ’n mengsel van rots, sand, vlakte en heuwels.
Die begin- en eindpunt gaan by die Daureb Isib-kampeerterrein wees.
Die aand voor die renosterdraf sal daar ’n vleisbraaiery en ’n veiling wees.
Selfs in die winter bak die son van Damaraland. Daarom sal die wegspring al om sesuur die oggend van 11 Junie wees.
Inskrywings: -events/brandberg-rhino-run-2016. (DE)