Graad 11-kamp op Uis 'n reusesukses

Leandrea Louw
Die jaarlikse graad 11-kamp van 2018 het van 5 tot 7 Junie by die Brandberg Rest Camp op Uis plaasgevind.

Die 76 graad 11-leerlinge is begelei deur me. Wilma van der Merwe (senior HOD: Akademie, vakhoof: Wiskunde). Mevv. Annelie Burger, Christelle van Dyk, Elsabé Verster en mnr. Herman Grobler (graad 11-registerklasonderwysers) het die leerders vergesel. Die kamp het gedien om die leerlinge se leierskapeienskappe op te skerp. Me. Van der Merwe sê: “Ek het die kamp voorwaar geniet en ek is vreeslik opgewonde oor ons matrikulante van 2019. Hulle is 'n baie dinamiese groep met ongelooflike potensiaal.” Leerlinge het verskeie evaluerings voltooi om hulle persoonlikheidstipes volgens die DISC-sisteem vas te stel. Besprekings rakende die ver­skillende persoonlikhede het begrip vir mekaar verbeter. Leerlinge het ook in groepe Walvisbaai Privaat Hoërskool se akademie, kultuur, sport en algemene tradisies met die SWOT-analise evalueer. SWOT is 'n Engelse afkorting vir “sterkpunte, swakpunte, geleenthede en kwesbaarhede”. Die SWOT-analise se bevindinge sal in 'n formele verslag aan mev. Estelle Eigelaar, die skoolhoof van WBPHS, voorgelê word.

Leerlinge het in klasverband teen mekaar in verskeie spanbou aktiwiteite gekompeteer. Daar is onder andere heerlike spanbou-aktiwiteite in die swembad aangebied. CP van Wyk, 'n graad 11-leerder, vertel: “Die swembad en watersporte was voorwaar 'n hoogtepunt vir ons almal. Ons het baie van mekaar geleer. Hierdie begrip vir mekaar is veral van kardinale belang in konflikhantering en om elkeen se persoonlikheid te waardeer.” Om dié avontuur op 'n hoogtepunt af te sluit het die hele groep graad elfs die hoë wit duin naby Uis geklim om die sonsondergang te geniet.