Johhny skets lewensverhaal met album

29 October 2018 | Art and Entertainment

Otis Finck - Dit is beslis ’n baie produktiewe jaar vir Johnny Davids.

Die oud-Walvisbaaier is vroeër vanjaar met ’n gesogte ATKV Mediaveertjie-toekenning vir die beste aanbieder/onderhoudvoerder in ’n joernaalprogram vir 2018 bekroon, en het hy pas ’n album getiteld Cornerstone vrygestel.

“Dit is ‘n gospelalbum. Met die hulp van die Here wou ek my lewensverhaal vertel. Maar nie in ’n ‘cheesy way’ nie.”

Die 2003 Zing-wenner, wat nou in Kaapstad gevestig is, het 13 snitte opgeneem waarvan 11 oorspronklike liedjies is. Vier hiervan is in Engels en 9 in Afrikaans.

Johnny sê elke liedjie vertel van ‘n spesifieke stadium in sy lewe waardeur God hom gevat het en die album is ’n samevatting van sy lewensverhaal.

Die titelsnit, “Cornerstone”, is ook die eerste liedjie wat hy as solokunstenaar in SA gesing het, maar vir hom is dit beslis baie meer as net dit.

“Elke liriek in die liedjie vertel waardeur ek as kind is en waar ek myself nou bevind. Dit gaan oor hoe ek God ‘my hoeksteen’ in sy totaliteit sien en ervaar. Die Woord sê mos in Psalm 127:1 as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou.”

Hy het ongeveer drie jaar geneem om die album te voltooi en daar is verskeie redes hiervoor, verduidelik hy.

“Finansies was een van hulle. Ek het hierdie keer besluit om die projek heeltemal op my eie aan te pak - sonder die hulp en bystand van ’n platemaatskappy.”

Daar was ook ander struikelblokke.

Sy eerste “band” het in die middel van die projek onttrek en die ateljee waar hulle die musiek opgeneem het, het onverwags sy deure gesluit.

“Ek het besluit dat niks my sal onderkry om die projek klaar te maak nie. Elke struikelblok was ‘n 'learning curve'. Sedert die Here die gedagte op my hart geplaas het en tot waar ek nou is, het ongeveer tien jaar verstryk.”

Liedjies wat vir hom baie na aan die hart lê, is “Cornerstone”, “Vertel dit vir Jesus” en “Oomblik soos die”.

‘n Liedjie wat baie goed vaar op sosiale media is “U Genade”.

“Oomblik soos die” is reeds meer as 25 000 keer op sosiale media besoek en hy het ook ’n musiekvideo daarvan gemaak.

“My inspirasie is die genade en guns van die Here. Hy is die begin en einde van alles. Ek is dankbaar dat ek die besonderse geleentheid gegun word om op so ‘n manier my lewensverhaal te kan vertel.”

Johhny fokus in die stadium daarop om die album by soveel mense as moontlik te kry en by verskeie plekke bekend te stel.

“Ek wil graag kinders help wat sukkel met dinge soos skoolfonds, skoene, kos, ensovoorts. Ek wil myself so posisioneer dat ek finansieel daartoe in staat kan wees om die doelwit te kan bereik. Ek weet hoe dit voel as jy nie eens geld het om iets soos skoolskoene te kan bekostig of selfs brood nie. Dit is my hartsbegeerte.”

Op die album het Johnny saam met ’n paar fantastiese kunstenaars gewerk.

Heinrich Isaacs is ’n welbekende saksofoonspeler van die Kaap, en hy lewer insette op van die snitte op die album.

Vir die liedjie “Oomblik soos die” het hy die besonderse voorreg gehad om ‘n duet saam met Trevor Benson op te neem. Benson is betrokke by baie van Neville D se opnames en is ‘n fenomenale sanger.

Johnny het ook ‘n duet saam met Abigail Thebus, ‘n pastoor en kunstenaar van Mitchells Plein, opgeneem.

Vir die eerste keer ooit het hy ook ‘n a cappella-liedjie op sy eie opgeneem. Al vier stemme het hy self gesing.

“Baie mense onthou my sekerlik as lid van die gospelgroep Nu Creation, en dis natuurlik my ‘roots’. By die groep het my sangloopbaan in alle erens begin.”

Johnny sê dit is vir hom ‘n besondere voorreg om sy album amptelik op Swakopmund en Walvisbaai bekend te kom stel.

“Walvisbaai, en meer spesifiek die gemeenskap van Narraville, het my en Vivian Molauly se loopbaan verskriklik goed ondersteun. Ek sê altyd dat Narraville my kom mens maak het. Ek is baie bevoorreg om dwarsdeur Suid-Afrika te werk, maar ek het nog nooit mense teëgekom soos ‘n ‘Baainaar’ nie. Namibiërs is maar net spesiaal. As dinge anders was, sou ek nooit die land verlaat het nie, maar nou ja, mens kan seker nie beste van beide wêrelde hê ni, nè?”

Die bekendstelling van Cornerstone vind op 16 November om 18:00 by Grandma's Kitchen op Swakopmund om 18:00 plaas, met Heinrich Isaacs en Trevor Benson as gaskunstenaars.

Johnny en die kunstenaars gaan ook sy aanhangers by die Walvis Bay Community Church op 17 November vanaf 18:00 vermaak.

Toegang vir beide geleenthede beloop N$100. Daar sal kopieë van Cornerstone beskikbaar wees, asook USBs teen N$100 elk.